fbpx

So, op hierdie lieflike Vrydag oggend, met die skool vakansie se heerlike rustigheid op die horison, stuur ons skool die assessering uit vir volgende kwartaal.

Oh boy, dis rof. Skool open Dinsdag, Vrydag is die eerste toets. 3 Toetse in elke volgende week met die eksamen wat die 19de November begin. Dit is 6 weke na die aanvang van die 4de kwartaal!

Natuurlik het ons kleinsussie se skoolkonsert (vir 2 dae), kleinsussie se ballet konsert (2 dae), en groot sussie se danskonsert (3 dae) tussenin.

Nou moet hierdie trotse mamma eers byvoeg, Graad 4 sussie het hierdie kwartaal vir die eerste keer NET 7’s gekry.  Party van haar vakke selfs 100% met ‘n gemiddeld wat op is met 6% vanaf laas kwartaal.  En ek sal erken, sy is ‘n slim kind.  Sy leer maklik en is lief vir lees.  Probleem is sy is nie altyd gewillig om hard te werk nie!

Maar nou is daar natuurlik hierdie standaard om te volhou, ek sy is nogal gemotiveerd om dit te doen.  Maar hoe gaan ons dit regkry?  Dieselfde manier hoe ons haar punte opgekry het van 2de kwartaal af.  (Ek dink 2de kwartaal was vir elke graad 4 en graad 4 ouer bomskok – nog nooit eksamen geskryf nie, baie werk gehad om te leer met kindertjies wat nie eers weet HOE om te leer nie)  Maar, ons is nou slimmer en ons gaan slimmer werk – nie harder nie (net ‘n klein bietjie).

Ek het vir my meisiekind gesê, as jy elke dag in hierdie vakansie net ‘n halfuur spandeer om deur van jou werk te gaan, sal jy nie sukkel met die eksamen nie.  En ja, ek gaan haar noual deur die kwartaal 4 opsommings laat werk (NWT is klaar, ek gaan nou aan die werk spring met SW en LV).

Dit gaan haar help om haar tyd te vat en die werk baie keer te herhaal.  Teen die tyd wat die toetse en eksamens kom, ken sy reeds meeste van die werk en sal ons net haar kennis toets met die werkskaarte, en sy sal dan werk op dit wat sy nog nie ken nie.

Engels, Afrikaans en Wiskunde is ‘n bietjie leerwerk en baie oefening.  So ons gaan hieraan ook elke dag werk (hierdie is tans haar 3 swakker vakke aangesien haar leervakke so mooi opgetel het).

So, dit is ons game plan.

Asseblief, moenie wag tot later om te begin leer nieSit elke dag ‘n bietjie werk in, julle sal die vrugte daarvan pluk.  Kwartaal 4 is BAIE stressvol, ons moet onnodige redes vir stress so ver moontlik probeer uitskakel.  Dit is so ‘n goeie gewoonte om in te kom van kleins af, want eendag op Hoërskool en selfs Universiteit is die werk so baie, dat dit eenvoudig nie meer moontlik is om ‘n dag voor die tyd te leer nie, en dit is waar baie studente uit die bus uit val.

Ek het self my Bcom deur UNISA gedoen (terwyl ek gewerk het, getrou het en later ‘n baba gehad het) – ek het dit in 4.5 jaar voltooi en eers op die ouderdom van 25 begin.  ‘n Hele paar jaar later het ek my CFP aangepak deur Vrystaat Universiteit.  Dit is ‘n honneurs graad in Finansiële beplanning en sjoe dit was tough!  Daar was leêrs vol werk en wette om te leer, baie formules en kalkulasies.  (EK het steeds gewerk, steeds getroud en nou met twee kids).  Ek het dit deurgekom – eerste keer.  Dit sou nie moontlik gewees het as ek nie elke liewe dag my 2 ure ingesit het nie.  Maar dan is dit moontlik (dalk spoor dit iemand aan om verder te swot…) 🙂

So, geniet die vakansie, maar sit elke dag ‘n stukkie werk in.  Desember vakansie is oppad en dan kan ons baie lank en baie lekker rus.  Deel met my julle kinders se resultate asseblief, ek sal graag wil weet as hulle verbeter het en hoe die opsommings help.

Sterkte!!  Drink maar daai glasie wyn in die aande ons gaan dit nodig hê…

Melanie

xxx